06/’13: Wat klaar is, is klaar…..

Image

Julle ken mos die storie van my Tant Sêra? Die een wat hoed op die kop gaan bad het vóór die Sondagdiens? Want sy’t geglo: Wat klaar is, is klaar!

Ek moes geweet het my vorige post was confusing – die buurvrou wou benoud weet saam met wie gaan sy dan ná September kan koffie drink en Saterdagmiddae, scrap? ‘n Ander vriend het baie benoud gewonder wat Die Baas van my planne sê en of ek al amptelik bedank het?

Niks sulke dinge nie!

30 Seprember 2013 is vandag nog 117 dae vêr in die toekoms – en baie kan in die tyd gebeur.

Ek kan doodgaan – dan moet my ma verstaan ek los haar alleen en Die Baas sal noodgedwonge iemand anders moet aanstel. Of my ma kan doodgaan, wat ook als verander. Of die Baas kan die gastehuis verkoop en dan sit ek sonder werk. Of ‘n orkaan kan Odendaalsrus optel en duskant Pitsonderwater neersit, dan sal alles desnoods óók verander…….. Maar dis nou vir my goed om duidelike doelwitte daar te stel en om my drome, sperdatums te gee.

As ek dus doen wat ek moet doen en 30 September breek aan en my boek is gepubliseer as e-boek, dan is ek gerééd vir wat-ook-al na my kant toe kom.

Ek glo baie sterk daaraan dat die Skepper my lewe en my lot in Sy hande hou. Ek glo ook, amper teenstrydig, dat ons aksies en besluite ons toekoms bepaal of beïnvloed. Die Skepping was nie maar net ‘n random act, die Skepping bestaan uit wiskundige presiese prosesse. Ek glo aan die begrip van energie wat in die Heelal uitgestuur word en dinge na jou aantrek.

Daarom kan ek nou met oortuiging sê: Ek het dit wat ek graag wil doen in woorde gesê en op skrif vasgelê; ek het dit voor die Vader se voete gelê en ek weet sonder twyfel dat daar teen 30 September 2013 vir my ‘n duidelik nuwe pad sal ooplê  en dat deure sal oopgaan.

Die enigste vereiste van my kant is, dat ek gereed moet wees.

En glo my, ek werk daaraan……….

Met groot vreugde!

05/’13: Tafelberg, my motivering

Nadat ek onlangs by my kopdokter was en hy my laat insien het dat ek my eie grootste vyand is, het ek ernstige siels-ondersoek gedoen.

Enige mens wat my goed ken, weet my droom, my grootste wens, my diepste harts-begeerte is om weer in die Kaap te kan bly – naby my kinders en naby Tafelberg. Hulle weet ook dat ek, synde die enigste kind net ter wille van my ma teruggetrek het Vrystaat toe.

En nou bly my ou moeder in die ouetehuis, lekker versorg, in haar eie kamer,  met ‘n paar vrouens wat haar “aangeneem” het en haar gereeld lekker bederf met eetgoedjies en uitstappies.

 Ek dink dis tyd dat ek besin oor wat ek graag wil hê en wat ek wil doen. Juliemaand word ek 60 — die tyd vir rondval is nou verby! Ek het onthou van Napoleon Hill se gesegde:

A goal is a Dream with a Deadline.’

En ek het besef ek moet nou vir my droom ‘n sperdatum gee, anders gaan die Status Quo volgende jaar nog presies dieselfde wees.

Ek het besef dat, om myself toe te laat om terug te trek Kaap toe, moet ek voorraadopname maak van my prioriteite .

Wat wil ek hê?

  • Ek wil in die Wes-Kaap bly — naby Elna, Luke, Tafelberg, Bloubergstrand, Cape Gate Mall, Bikini Beach Books in Gordonsbaai, 7Elevens wat Brownies verkoop, Stellenbosch se Woordfees, die Suidooster….. sommer als wat “Kaap” spel.

Wat wil ek doen as ek daar is?

  • Skryf! Oor my lewe en als wat ek beleef het.
  • Ek wil graag ‘n verskil aan ten minste één mishandelde vrou se uitkyk van die lewe maak.

Hoe gaan ek dit doen?

  • Ek moet ‘n ou joppie soek by ‘n klein, stillerige gastehuis, êrens in die Wes-Kaap, naby die see. Nie ‘n besige, 5-ster plek nie, maar eerder ‘n plekkie waar dit voel of jy by jou ouma gaan kuier; waar ek met my tipiese Vrystaatse gasvryheid die mense kan ontvang en laat tuis voel. Ek sal nie baklei oor ‘n reuse salaris nie; inwoning en kos vir my en my kat en genoeg sakgeld vir koffie en kaaskoek sal my tevrede stel.
  • Om dit als te kan doen, moet ek  my e-boek waaraan ek tans werk klaar skryf, want dit moet sorg vir my inkomste.
  • Ek het uitgewerk dat die boek teen 30 September 2013 klaar moet wees, reg om gepubliseer te word.. Vanaf 21 Mei, toe ek die besluit geneem het, was dit 132 dae. Vandag, 3 Junie is daar NET 119 dae oor!

Skielik besef ek met ‘n skok hoe min tyd daar is. Hoe vinnig snel die dae nie verby as mens nie volgens ‘n plan, ‘n rooster werk nie!

Vanoggend het my dogter, Elna Dr. Phil se woorde op my fb profiel gedeel:

“The difference between a dream and a goal is a timeline.”

Op hierdie yskoue Vrystaatse Maandag-more is dit presies wat ek gaan doen — ‘n timeline opstel.

My geliefde Tafelberg wink —– watter beter motivering wil mens hê?

 

02/’13: My “skryf” het ge-AWOL en die kopdokter se raad……..

Ek hou van skryf. Punt. Ek het NODIG om te skryf. Uitroepteken..

Vandat ek kan onthou, skryf ek. Eers die opstelle op skool en die dagboek-inskrywings wat stories vertel van my tiener-wroeginge. Daarna tientalle notaboeke wat sporadies die verhaal vertel van  my vier-dekade-lange bloederige toonstamp-tog oor  klipperige verhoudings en rotsagtige huwelikspaadjies.

Altyd kon ek neerpen wat ek dink en hoe ek voel.

Tot ongeveer twee jaar gelede, toe my skryf  opgedroog het soos ‘n appelkoos onder die Desemberson. O, glo my, ek het probeer. Aan die hand van Julia Cameron se “The Artist’s Way” het ek getrou deur die “Morning Pages” geworstel.  Image

Begin 2012 het ek my verbind tot ‘n “post” elke dag; om dit maklik te maak het ek onderneem om elke dag net ‘n aanhaling to plaas. Hoe lank het dit gehou? Amper ‘n maand…

Begin Januarie 2013 wend ek weer ‘n poging aan, net om vyf maande later weer te erken –  ek kry nie geskryf nie.

O, die gees is soooo gewillig… Vanjaar het ek al ingeskryf vir ‘n kursus om e-boeke te publiseer;  ek is per bus na Pretoria vir ‘n fiksie-werkswinkel deur Susan Coetzer, terwyl ek intussen ook die “Om te Skryf”-kursus deurgedraf het.

Wat kort nog?  In Susan Coetzer se gevleuelde woorde: “Die belangrikste ding wat jy moet doen is om jou boude op die stoel voor jou rekenaar neer te plak en net te BEGIN skryf. Dit hoef nie sin te maak nie – SKRYF net! Word skryf-fiks.”

Dis so maklik! Enige aap kan dit doen. Regtig? Wel, duidelik is ek ‘n aap van ‘n ander kleur, want ek loop draaie om my rekenaar of dan liewer, my “word-document”. My rekenaar is daar vir Facebook en Freecell en terwyl ek die rooi 10 van Diamante op die swart Jack sit, speel die een storie na die ander in my gedagtes af… en dis waar dit bly.

Moedeloos en gefrustreerd het ek Maandag-oggend by ‘n dierbare pastorale sielkundige wat my al baie jare ken aangeklop en gevra: “Klim asseblief bietjie in my deurmekaar kop en draai die los skroewe weer vas? Ek het nie verniet amper sestig jaar se strooi aangevang, om nou uit te vind ek kry nie die stories geskryf nie!”

En hy het die skroewe vasgedraai.. Blykbaar is die sondebok daardie moedswillige mannetjie wat ons almal mee sukkel – die onderbewussyn.

Toe ek twee jaar gelede hier begin werk het, het ek noodgedwonge verskeie keuses gemaak wat groot opofferings van my geverg het, soos dat ek ter wille van my ma hier sal bly (terwyl my siel in die skaduwees van Tafelberg agtergebly het) en ek het my ook totaal van die sosiale lewe onttrek en die “paardans” eerder aan ander oorgelaat. Voeg daarby die feit dat ek 24/7 inwoon op die perseel waar ek werk en dat my ou karretjie gesteel is en jy kry ‘n prentjie van absolute, totale isolasie.

Wat het dit met skryf te doen, sou jy vra? En is swaarkry en afsondering dan nie goeie pasmaats vir swoegende, suksesvolle skrywers nie? Miskien, ja, maar my onderbewussyn “lees” toe net dat ek alles wat vir my lekker is, geblokkeer het en hy “help” toe deur my “skryf” se kraantjie ook toe te draai.

Dr. Johan se raad aan my? Dat ek moet afklim van die altaar waarop ek myself geplaas het; dat ek moet besluit wat dit is wat ek wil doen en wat ek wil hê van die lewe en wat goed en noodsaaklik is vir MY, om die beste Alta te wees wat ek kan.

En toe doen ek presies DIT – ek bedink die drome wat ek koester en ek neem ‘n besluit…..

“A Goal is a Dream with a Deadline” (Napoleon Hill”

01/’13: Hello 2013!

28 Januarie 2012. Dis die datum van my vorige post —— amper 12 maande gelede! Sies!

Ter verdediging , nee, verduideliking, kan ek net noem dat ek een moerse ernstige bubble gehap het op 29 Januarie en dat dit my omtrent ses maande gevat het om daaroor te kom. In daardie tyd was my skryf, …………weg! Soos in MIA, weg!

Maar hier is ons nou, Nuwe jaar, nuwe hoofstuk in die lewensboekie en met ‘n rekenaar wat weer in my kamer staan, soos nog sedert die eerste dag dat ek een gekry het. Hopelik is ek bietjie slimmer en baie wyser as verlede jaar

Dank die Vader vir vriendinne wat kort-kort vra: Hoe vorder die katboek? Wanneer skryf jy weer iets op jou blog?

Ek belowe niks —– g’n vreeslike nuwejaarsvoornemens; g’n beloftes waaraan ek my verbind.

Al wat ek weet is, ek is nou hier, voor my rekenaar en ek gesels met julle.

Kom ons kyk wat wil die muse met my doen………..