05/’13: Tafelberg, my motivering

Nadat ek onlangs by my kopdokter was en hy my laat insien het dat ek my eie grootste vyand is, het ek ernstige siels-ondersoek gedoen.

Enige mens wat my goed ken, weet my droom, my grootste wens, my diepste harts-begeerte is om weer in die Kaap te kan bly – naby my kinders en naby Tafelberg. Hulle weet ook dat ek, synde die enigste kind net ter wille van my ma teruggetrek het Vrystaat toe.

En nou bly my ou moeder in die ouetehuis, lekker versorg, in haar eie kamer,  met ‘n paar vrouens wat haar “aangeneem” het en haar gereeld lekker bederf met eetgoedjies en uitstappies.

 Ek dink dis tyd dat ek besin oor wat ek graag wil hê en wat ek wil doen. Juliemaand word ek 60 — die tyd vir rondval is nou verby! Ek het onthou van Napoleon Hill se gesegde:

A goal is a Dream with a Deadline.’

En ek het besef ek moet nou vir my droom ‘n sperdatum gee, anders gaan die Status Quo volgende jaar nog presies dieselfde wees.

Ek het besef dat, om myself toe te laat om terug te trek Kaap toe, moet ek voorraadopname maak van my prioriteite .

Wat wil ek hê?

  • Ek wil in die Wes-Kaap bly — naby Elna, Luke, Tafelberg, Bloubergstrand, Cape Gate Mall, Bikini Beach Books in Gordonsbaai, 7Elevens wat Brownies verkoop, Stellenbosch se Woordfees, die Suidooster….. sommer als wat “Kaap” spel.

Wat wil ek doen as ek daar is?

  • Skryf! Oor my lewe en als wat ek beleef het.
  • Ek wil graag ‘n verskil aan ten minste één mishandelde vrou se uitkyk van die lewe maak.

Hoe gaan ek dit doen?

  • Ek moet ‘n ou joppie soek by ‘n klein, stillerige gastehuis, êrens in die Wes-Kaap, naby die see. Nie ‘n besige, 5-ster plek nie, maar eerder ‘n plekkie waar dit voel of jy by jou ouma gaan kuier; waar ek met my tipiese Vrystaatse gasvryheid die mense kan ontvang en laat tuis voel. Ek sal nie baklei oor ‘n reuse salaris nie; inwoning en kos vir my en my kat en genoeg sakgeld vir koffie en kaaskoek sal my tevrede stel.
  • Om dit als te kan doen, moet ek  my e-boek waaraan ek tans werk klaar skryf, want dit moet sorg vir my inkomste.
  • Ek het uitgewerk dat die boek teen 30 September 2013 klaar moet wees, reg om gepubliseer te word.. Vanaf 21 Mei, toe ek die besluit geneem het, was dit 132 dae. Vandag, 3 Junie is daar NET 119 dae oor!

Skielik besef ek met ‘n skok hoe min tyd daar is. Hoe vinnig snel die dae nie verby as mens nie volgens ‘n plan, ‘n rooster werk nie!

Vanoggend het my dogter, Elna Dr. Phil se woorde op my fb profiel gedeel:

“The difference between a dream and a goal is a timeline.”

Op hierdie yskoue Vrystaatse Maandag-more is dit presies wat ek gaan doen — ‘n timeline opstel.

My geliefde Tafelberg wink —– watter beter motivering wil mens hê?

 

2 thoughts on “05/’13: Tafelberg, my motivering

    • Dankie Hennie! Hoop net dat ek ‘n realistiese, haalbare timeline sal kan opstel. Dis moeilik, as mens nog nooit ‘n boek geskryf het, om vir jouself sperdatums te gee. Maar, ons gaan probeer…..

Lewer kommentaar